Vergewe en vergeet
Dat gij niet vergeet de dingen die uwe
ogen gezien hebben. (Deut 4:9).
Daar het 'n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.
En eendag kom daarlanges
'n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.
"Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie platgetrap."
Die ossewa verdwyn weer
agter 'n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.
Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.
Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.
Ook het die loop van jare
die wonde weggewis -
net een plek bly 'n teken
wat onuitwisbaar is.
Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.
the rise and fall of the afrikaans empire
"You reached for the secret too soon -
You cried to the moon" PINK FLOYD
Langs die ou grondpad
Het 'n doringboompie gestaan.
Ossewaens en Model T's
het elke week verby gegaan -
Families het later
Piekniek gehou in sy skadu,
By die water
Van die stroom
Met hampers en kiste bier.
So is die Afrikanervolk gebore;
Babalaas en loom,
'n Burp wat eggo
Verby dorindraad, blokhuis
En die verveelde doringboom.
Geen Engelse wa het hom vertrap nie -
Hy het homself ingeperk, verdors, verknel,
Toe, op 'n dag,
Die bouers in hul blikhuisies kom werk
Aan 'n nuwe hoofweg; glad en snel
Vir môre se toeriste
In hulle fur-en-chroom-ses-silinder-doodskiste
Vandag weet niemand van die doringboom
En slegs 'n skelet
Is sigbaar in die nag
En, as jy naby genoeg stap
Tussen die kliperts en die kriekies
Hoor jy nog die gelag van kinders
Waar families vleis gebraai het -
Die doringboom is dood
En gister se geskater
Met blikkoppies by die water
Is versteen vir 'n nuwe nageslag
In muf swart bladsye
En geel kiekies.
'n Stukkende stofpad
Bak nog agtermiddags in die son
Met disselbos en klitsgras geplavei
As afgeleefde monument
Vir reisigers uit die ou tyd
Maar 'n eeu moes end
En inkeer op homself, going, going, gone...
Stil, herders van die volk, leiers van die warboel-trekkery
Want die era van die doringboom is klaar verby.
Verlore Stad
In die reën wat verby is
ver dag en verlore stad
van akkers van duiwe vol dagbreek
was my hande die ene eekhorinkie
vinnig sku maar voorbereid
ver dag en verlore stad
deur al die mense het jy gekom
met 'n eenvoudige glimag
soos van 'n lang reis
en die reën wat verby is
het hom verwarm aan my lyf
die reën van rook en oker
wat ruik na jou hande skoongewas
na warm duiwe en die oop
oranje papawer van die lug
Korreltjie sand
Korreltjie korreltjie sand
klippie gerol in my hand
klippie gesteek in my sak
word korreltjie klein en plat
Sonnetjie groot in die blou
ek maak net 'n ogie van jou
blink in my korreltjie klippie
dit is genoeg vir die rukkie
Kindjie wat skreeu uit die skoot
niks in die wêreld is groot
stilletjies lag nou en praat
stilte in Doodloopstraat
Wêreldjie rond en aardblou
korreltjie maak ek van jou
huisie met deur en twee skrefies
tuintjie met blou madeliefies
Pyltjie geveer in verskiet
liefde verklein in die niet
Timmerman bou aan 'n kis
Ek maak my gereed vir die Niks
Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood
Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
Allerliefste, ek stuur vir jou 'n rooiborsduif
want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
ek hy kleur my boodkap so bruin oor jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos 'n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos 'n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
(Jou brief is wonderlik)
Jou brief is wonderlik, nog groter en ligter
as die gedagte aan 'n blom wanneer die droom
tuingrond is,
jou brief gaan oop iets ontvou
en van buite kom daar lug kom daar woorde
kom ruimte,
ek het in groen weivelde geslaap
ek het op die rand van die dal van doodskaduwee
in die laaste nagwaak
gelê en luister hoe die veroordeeldes
deur gange in die grond gelei word,
hoe hulle sing
met die asems in die monde
soos inwoners wat op vertrek staan
omdat die stad brand, hoe hulle sing
met die asems soos boeie,
hoe hulle sing,
hulle wat van die donker in die lig gaan spring
hulle wat gepos gaan word na 'n bestemminglose adres,
en ek het die onheil gevrees
die tafel voor my aangesig teenoor my teënstanders
is leeg, ek het as op my hoof,
my beker is leeg,
en ek het na jou brief gevlug en gelees
van die lemoenboompie oortrek van wit bloeisels
wat oopgaan met die son,
ek kon dit ruik op die balkon,
ek kan jou ruik
nog heerliker en ligter as die gedagte aan 'n blom
in hierdie donker nag,
ek sal aan jou woorde aan die lug hang,
gee dat ek in jou brief mag woon
in lengte van dae
envoi,
jou brief is wonderlik, nog groter en ligter
as die gedagte aan 'n blom wanneer die droom
tuingrond is,
jou brief gaan oop iets ontvou
en van buite kom daar lug kom daar woorde
kom onthou,
Route 66
In 'n karaoke bar
downtown Boston
kweel 'n jazz-sangeres
"Route 66". Sy steel die hoë
note soos 'n diva rose vang;
dan brom sy in 'n diep binnensmondse bas
oor die lewe, oor die lewe
wat verbygaan. In die karaoke bar
downtown Boston ja downtown Boston
kyk die digter hoe die jazz-sangeres
op die maat van 'n bekende lied
kweel en kwinkeleer en uitbrei
bysit en wegneem wegneem en bysit
dit haar eie maak soos
Ella Fitzgerald lullaby sy ons
maak ons wakker nes die gedig
'n jazzerige-weergawe word
van die oorspronklike toneel
vol uitgeworpenes, "operasangers"
en ander brommers wat probeer sing
probeer sing maar nooit maar nooit
die eerste, oorspronklike lied
regtig so goed kan vertolk nie.
’n Gedig plagieer die werklikheid
In Indië word die linkerhand
gebruik om die afvalskotjies mee op te vang;
hierom groet of eet mens nooit met hierdie hand.
Vir 'n gedig hou die digter ook die hand uit
(biesie biesie bame, vou die handjies same)
vir 'n digterlike inval. Dit begin met 'n melodie
soos Frank Sinatra wat kweel in 'n ou skoenwinkel
"It's raining pennies from heaven" (dit was gister,
nietemin) plus die milieu (verkieslik vreemd: Cambridge, Mass.
met die aanbreek van die ontglippende lente) en 'n getob
oor presies wát het in T.S. Eliot se melancholiese gemoed
gebeur met "April is the cruellest month". Nog is het einde
niet. Soos daardie kakvangertjie in Indië is die digter
hier bewus van uitskot. Alvorens die vers lewe kry,
stol alle liggaamsfunksies. Selfs 'n angsaanval knyp
aan die keel. Sê nou net die vers is kriptomnesia? Of afgekyk?
Hoeveel erkenning? Word 'n voetnoot ná die kindergebedjie,
Frank Sinatra of T.S. Eliot behoef? Is boetedoening nodig
soos Here vergeef haar, want sy weet nie wat sy uitskyt nie
en boonop is sy nie meer die mens wat sy was nie.
Inderdaad soos ’n soort Salomo meen:
Daar is niks nuuts in die digterlike kryt nie!
Die anatomie van jaloesie
Ek is jaloers op hulle. Op die een
Wat volmaakte seuns uit jou skoot kon haal.
Wat werklike bloed en naelstring kon sien:
geen afbeelding of kloning of nabootsing.
’n Kind wat beur en stoot teen die ingewande van sy moeder,
my geliefde minnares. Ek is nydig op hom wat amper pa
gestaan het vir ’n ongebore kind wat iewers tussen een of twee maande
stom gebore is en nooit jou lewensvuur of drif sou smaak nie. Ek is venynig oor
hom wat eerste met sy harde geslag in jou nou, maagdelike ingang durf boor het.
Ek is woedend oor dit wat hulle kon verower en wegneem en wen.
Omdat hulle dieper in jou kon wees as wat ek ooit – al smag ek hoe –
kan wees. Hoor my aan (en vergeet om liefdeswil van Freud en lesbiese jaloesie):
Ek wens ek kan ’n kind uit jou kloon
’n kind wat op haar nes jy lyk
wat elke merkie op jou lyf ook op hare dra
’n kind wie se mondjie op joue trek:
af wanneer mismoedig; op in vreugde –
veral, veral ’n kind met jou mond:
teersag, volmaak en lieflik rond.
Maar alles bly afbeelding, verbeelding
In ’n onvolmaakte, jaloerse gedig.
Op 45 die hereweet, brand my hart nes in die eerste skrif.