Skip to main content

  • Totius (J.D. du Toit)

    • Totius (J.D. du Toit) (1877-1953)


       

       


       




      Vergewe en vergeet




      Dat gij niet vergeet
      de dingen die uwe

      ogen gezien hebben. (Deut 4:9).




      Daar het 'n doringboompie

      vlak by die pad gestaan,

      waar lange ossespanne

      met sware vragte gaan.



      En eendag kom daarlanges

      'n ossewa verby,

      wat met sy sware wiele

      dwars-oor die boompie ry.



      "Jy het mos, doringstruikie,

      my ander dag gekrap;

      en daarom het my wiele

      jou kroontjie platgetrap."



      Die ossewa verdwyn weer

      agter 'n heuweltop,

      en langsaam buig die boompie

      sy stammetjie weer op.



      Sy skoonheid was geskonde;

      sy bassies was geskeur;

      op een plek was die stammetjie

      so amper middeldeur.



      Maar tog het daardie boompie

      weer stadig reggekom,

      want oor sy wonde druppel

      die salf van eie gom.



      Ook het die loop van jare

      die wonde weggewis -

      net een plek bly 'n teken

      wat onuitwisbaar is.



      Die wonde word gesond weer

      as jare kom en gaan,

      maar daardie merk word groter

      en groei maar aldeur aan.

  • Koos Kombuis



    • Koos
      Kombuis (1954-)



       

       


       




      the rise and fall of the
      afrikaans empire




      "You reached for the secret too soon -

      You cried to the moon"
      PINK FLOYD



      Langs die ou grondpad

      Het 'n doringboompie gestaan.

      Ossewaens en Model T's

      het elke week verby gegaan -

      Families het later

      Piekniek gehou in sy skadu,

      By die water

      Van die stroom

      Met hampers en kiste bier.

      So is die Afrikanervolk gebore;

      Babalaas en loom,

      'n Burp wat eggo

      Verby dorindraad, blokhuis

      En die verveelde doringboom.



      Geen Engelse wa het hom vertrap nie -

      Hy het homself ingeperk, verdors, verknel,

      Toe, op 'n dag,

      Die bouers in hul blikhuisies kom werk

      Aan 'n nuwe hoofweg; glad en snel

      Vir môre se toeriste

      In hulle fur-en-chroom-ses-silinder-doodskiste



      Vandag weet niemand van die doringboom

      En slegs 'n skelet

      Is sigbaar in die nag

      En, as jy naby genoeg stap

      Tussen die kliperts en die kriekies

      Hoor jy nog die gelag van kinders

      Waar families vleis gebraai het -

      Die doringboom is dood

      En gister se geskater

      Met blikkoppies by die water

      Is versteen vir 'n nuwe nageslag

      In muf swart bladsye

      En geel kiekies.



      'n Stukkende stofpad

      Bak nog agtermiddags in die son

      Met disselbos en klitsgras geplavei

      As afgeleefde monument

      Vir reisigers uit die ou tyd

      Maar 'n eeu moes end

      En inkeer op homself, going, going, gone...

      Stil, herders van die volk, leiers van die warboel-trekkery

      Want die era van die doringboom is klaar verby.

  • Ingrid Jonker

    • Ingrid
      Jonker



       

       


       




      Verlore Stad




      In die reën wat verby is

      ver dag en verlore stad

      van akkers van duiwe vol dagbreek



      was my hande die ene eekhorinkie

      vinnig sku maar voorbereid

      ver dag en verlore stad



      deur al die mense het jy gekom

      met 'n eenvoudige glimag

      soos van 'n lang reis



      en die reën wat verby is

      het hom verwarm aan my lyf

      die reën van rook en oker



      wat ruik na jou hande skoongewas

      na warm duiwe en die oop

      oranje papawer van die lug

       

       


      Korreltjie sand




      Korreltjie korreltjie sand

      klippie gerol in my hand

      klippie gesteek in my sak

      word korreltjie klein en plat



      Sonnetjie groot in die blou

      ek maak net 'n ogie van jou

      blink in my korreltjie klippie

      dit is genoeg vir die rukkie

      Kindjie wat skreeu uit die skoot

      niks in die wêreld is groot

      stilletjies lag nou en praat

      stilte in Doodloopstraat



      Wêreldjie rond en aardblou

      korreltjie maak ek van jou

      huisie met deur en twee skrefies

      tuintjie met blou madeliefies



      Pyltjie geveer in verskiet

      liefde verklein in die niet

      Timmerman bou aan 'n kis

      Ek maak my gereed vir die Niks



      Korreltjie klein is my woord

      korreltjie niks is my dood

  • Breyten Breytenbach


    • Breyten Breytenbach



       

       


       




      Allerliefste, ek stuur
      vir jou 'n rooiborsduif




      Allerliefste, ek stuur
      vir jou 'n rooiborsduif

      want niemand sal 'n boodskap wat rooi is skiet nie.

      Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek

      weet al die jagters sal dink dis die son.

      Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder

      en waar hy vlieg daar skitter oseane

      en bome word groen

      ek hy kleur my boodkap so bruin oor jou vel

       

      Want my liefde reis met jou mee,

      my liefde moet soos 'n engel by jou bly,

      soos vlerke, wit soos 'n engel.

      Jy moet van my liefde bly weet

      soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie


       

       



      (Jou brief is
      wonderlik)


      Jou brief is wonderlik,
      nog groter en ligter

      as die gedagte aan 'n blom wanneer die droom

      tuingrond is,

      jou brief gaan oop iets ontvou

      en van buite kom daar lug kom daar woorde

       kom ruimte,



      ek het in groen weivelde geslaap

      ek het op die rand van die dal van doodskaduwee

      in die laaste nagwaak

      gelê en luister hoe die veroordeeldes

      deur gange in die grond gelei word,

                                                      
      hoe hulle sing



      met die asems in die monde

      soos inwoners wat op vertrek staan

      omdat die stad brand, hoe hulle sing

      met die asems soos boeie,

                                         
      hoe hulle sing,

      hulle wat van die donker in die lig gaan spring

      hulle wat gepos gaan word na 'n bestemminglose adres,

      en ek het die onheil gevrees



      die tafel voor my aangesig teenoor my teënstanders

      is leeg, ek het as op my hoof,

      my beker is leeg,



      en ek het na jou brief gevlug en gelees

      van die lemoenboompie oortrek van wit bloeisels

      wat oopgaan met die son,

      ek kon dit ruik op die balkon,

                                            
      ek kan jou ruik



      nog heerliker en ligter as die gedagte aan 'n blom

      in hierdie donker nag,



      ek sal aan jou woorde aan die lug hang,

      gee dat ek in jou brief mag woon

      in lengte van dae



      envoi,

      jou brief is wonderlik, nog groter en ligter

      as die gedagte aan 'n blom wanneer die droom

      tuingrond is,

      jou brief gaan oop iets ontvou

      en van buite kom daar lug kom daar woorde

      kom onthou,

  • Joan Hambidge - Gedigte

    • Joan Hambidge



      Route 66



      In 'n karaoke bar

      downtown Boston

      kweel 'n jazz-sangeres

      "Route 66". Sy steel die hoë

      note soos 'n diva rose vang;

      dan brom sy in 'n diep binnensmondse bas

      oor die lewe, oor die lewe

      wat verbygaan. In die karaoke bar

      downtown
      Boston ja downtown Boston

      kyk die digter hoe die jazz-sangeres

      op die maat van 'n bekende lied

      kweel en kwinkeleer en uitbrei

      bysit en wegneem wegneem en bysit

      dit haar eie maak soos

      Ella Fitzgerald lullaby sy ons

      maak ons wakker nes die gedig

      'n jazzerige-weergawe word

      van die oorspronklike toneel

      vol uitgeworpenes, "operasangers"

      en ander brommers wat probeer sing

      probeer sing maar nooit maar nooit

      die eerste, oorspronklike lied

      regtig so goed kan vertolk nie.



      p.67




      ’n Gedig plagieer die werklikheid



      In Indië word die linkerhand

      gebruik om die afvalskotjies mee op te vang;

      hierom groet of eet mens nooit met hierdie hand.

      Vir 'n gedig hou die digter ook die hand uit

      (biesie biesie bame, vou die handjies same)

      vir 'n digterlike inval. Dit begin met 'n melodie

      soos Frank Sinatra wat kweel in 'n ou skoenwinkel

      "It's raining pennies from heaven" (dit was gister,

      nietemin) plus die milieu (verkieslik vreemd: Cambridge, Mass.

      met die aanbreek van die ontglippende lente) en 'n getob

      oor presies wát het in T.S. Eliot se melancholiese gemoed

      gebeur met "April is the cruellest month". Nog is het einde

      niet. Soos daardie kakvangertjie in Indië is die digter

      hier bewus van uitskot. Alvorens die vers lewe kry,

      stol alle liggaamsfunksies. Selfs 'n angsaanval knyp

      aan die keel. Sê nou net die vers is kriptomnesia? Of afgekyk?

      Hoeveel erkenning? Word 'n voetnoot ná die kindergebedjie,

      Frank Sinatra of T.S. Eliot behoef? Is boetedoening nodig

      soos Here vergeef haar, want sy weet nie wat sy uitskyt nie

      en boonop is sy nie meer die mens wat sy was nie.

      Inderdaad soos ’n soort Salomo meen:

      Daar is niks nuuts in die digterlike kryt nie!



      p.59




      Die anatomie van jaloesie


      Ek is jaloers op hulle. Op die een

      Wat volmaakte seuns uit jou skoot kon haal.

      Wat werklike bloed en naelstring kon sien:

      geen afbeelding of kloning of nabootsing.

      ’n Kind wat beur en stoot teen die ingewande van sy moeder,

      my geliefde minnares. Ek is nydig op hom wat amper pa

      gestaan het vir ’n ongebore kind wat iewers tussen een of twee maande

      stom gebore is en nooit jou lewensvuur of drif sou smaak nie. Ek is venynig oor

      hom wat eerste met sy harde geslag in jou nou, maagdelike ingang durf boor het.



      Ek is woedend oor dit wat hulle kon verower en wegneem en wen.

      Omdat hulle dieper in jou kon wees as wat ek ooit – al smag ek hoe –

      kan wees. Hoor my aan (en vergeet om liefdeswil van Freud en lesbiese jaloesie):



      Ek wens ek kan ’n kind uit jou kloon

      ’n kind wat op haar nes jy lyk

      wat elke merkie op jou lyf ook op hare dra

      ’n kind wie se mondjie op joue trek:

      af wanneer mismoedig; op in vreugde –

      veral, veral ’n kind met jou mond:

      teersag, volmaak en lieflik rond.



      Maar alles bly afbeelding, verbeelding

      In ’n onvolmaakte, jaloerse gedig.



      Op 45 die hereweet, brand my hart nes in die eerste skrif.



      p.44
1 - 8 of 8
Showing 20 items per page
List Comments (0)